Op 15 Junie 2017 het 18 dogters wat aan die Womanhood Program van Gobabis Gymnasium deelneem,  die voorreg gehad om besoek af te lê by mevrou Geingos’ in die staatshuis.

Die Womanhood Program is ‘n program wat deur Mev. Annelise Genis geinisieer is om aan die karater van die dogters in Gobabis Gymnasium te bou en hul terselfdertyd lewensvaardighede aan te leer.  Die program bestaan uit ‘n totaal van dertig modules wat deur die loop van ‘n meisie se hoërskoolloopbaan voltooi kan word. Elke maand word een van hierdie modules behandel en die doel is om afgeronde dames die samelewing in te stuur.

‘n module kan groepsgerig wees of individueel voltooi word. Al 18 van die meisies is in groepe ingedeel en elke groep ontvang  dan ‘n voog of Mamma wat haar deur die program help. Wanneer ‘n meisie die program voltooi word sy en haar ouers na ‘n formele kroningsseremonie genooi waar sy as  ‘n prinses gekroon word.

Gedurende die loop van die jaar het die dogters al geleer om gesonder te leef, beter uitrustings te kies en ook hoe kosbaar elke vrou in eie reg is.

Mev. Geingos’ het te hore gekom van die Womenhood Program deur mev. Genis en het ‘n uitnodiging aan Gobabis Gymnasium gerig om in gesprek met haar te tree in die Staatshuis.   Hierdie gesprek is aanvullend tot die #BEFREE program wat deur mev. Geingos’ geloods is. Dit is toe dat hulle die voorreg gehad het om na die hoofstad te vertrek om die Paleis te besoek.

Die dogters het die voorreg gehad om ‘n kosbare gesprek rondom waardes en morele verval van die jeug van Namibië te voer.  Mevrou Geingos’ het deurentyd met geduld en belangstelling na elkeen se storie geluister en baie van haar eie wysheid met hulle gedeel. Sy het elkeen laat voel asof hulle werklik al ‘n dame is aan wie se opinie daar waarde geheg kan word.

As blyk van waardering is ‘n skildery deur Marlene Kotze aan mev. Geingos’ oorhandig met simboliese betekenis wat haar aanspoor om die Waarheid met elke jongmens van Namibië te bly deel.

Na afloop van die gesprek met mevrou Geingos’ het sy hulle genooi om ‘n foto saam haar te neem. Na die foto het Mevrou Geingos’ elke dogter se hart aangeraak deur elkeen met ‘n stywe druk vaarwel te roep.

In ‘n spesiale oomblik het mev. Geingos’ haar ontferm oor Keogopotse Puturi wat op hierdie dag ‘n jaar gelede haar moeder aan die dood moes afstaan.  Mevrou Geingos’ het tyd afgestaan en die geleentheid gebruik om haar te bemoedig en het terselfdertyd elke meisie diep aangeraak.

Die dogters het na die besondere dag huistoe gegaan met nuwe selfvertoue en ook met  nuwe respek en vertroue in die mense wie hulle land regeer.